Ardenne

Ligging van die Ardenne in Europa
Ardenne in België
Die Semoisrivier naby Frahan
Saint-Hubert
Schlindermanderscheid (Groothertogdom Luxemburg)

Die Ardenne (Frans Ardennes, afgelei van Kelties Arduenna "hoogland, plato" of Ar Duen "die swart (streek)") is 'n gebied in Suidoos-België, Noord-Luxemburg en Noord-Frankryk. Dit is 'n landskap en bergreeks wat deel uitmaak van die Rynlandse Leisteenplato en hoofsaaklik in die suidooste van België geleë is, alhoewel uitlopers van die gebergte tot in Luxemburg en Frankryk (département Ardennes) strek. In die Eerste en Tweede Wêreldoorlog het verskeie veldslae, waaronder die Ardenneoffensief, hier plaasgevind.[1]

Die Ardenne is 'n uitgestrekte, beboste bergreeks wat tussen die Moesel- en Maas-riviere deur 'n ruwe berglandskap gekenmerk word, maar langs die oewers van die Sambre-rivier geleidelik begin afhel tot by die Vlaamse Vlakte. In die ooste hoort die bergreekse Ösling en Hoë Vene[2] nog by die Ardenne en sluit die Eifel by die Ardenne aan. Die hoogste bergpieke in die Ardenne is die Baraque de Fraiture in die noorde van die Belgiese provinsie Luxemburg op 'n hoogte van 652 meter bo seevlak, en in die ooste van die Belgiese provinsie Luik die Signal van Botrange op 'n hoogte van 694 meter bo seevlak en die Baraque Michel (674 meter).

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. Die Hoë Vene behoort gedeeltelik tot die Ardenne en gedeeltelik tot die Eifel.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search